Uit die Hoof se pen...
Die keuse van 'n skool is 'n integrale deel van die
geleenthede wat elke ouer sy kind wil gee. Daar is noodwendig 'n
vraag na gehalte onderrig wat op 'n gebalanseerde wyse die student toerus
om sy/haar potensiaal te verwesenlik. Ons glo dat die "Blou Masjien" aan hierdie behoefte voldoen.
Hoërskool Randburg se tradisie en geskiedenis staan bo verdenking
met uitstaande prestasies deur leerders en oudleerders. Op die
sportveld, verhoog en in die klaskamer lewer die skool jaarliks
kwaliteitkandidate wat sprekend is van die werk wat hier gedoen word.
By die skool is daar 'n wye verskeidenheid van aktiwiteite wat aan elke
leerder die geleentheid gee om sy belangstelling en talente uit te bou.
Hierdie aktiwiteite word onderskraag deur 'n hoë standaard van onderrig
wat 'n intellektuele verruiming stimuleer wat ons kandidate op tersiêre
vlak onderskei van ander.
Daar word verder gefokus op persoonsvorming wat leerders toerus om met
onderskeiding die regte lewenskeuses te maak. 'n Hoë premie word
geplaas op die waardegerigte norme wat Christenskap ons bied, om so die
kandidate se kwaliteite te koester en met deernis te ontwikkel tot
sinvolle bydraes in ons gemeenskap.
Hoërskool Randburg is die "Blou Masjien" wat aan die Noorde
van Johannesburg 'n bakermat vir Afrikaanse onderrig is. Hierdie
masjien pols dinamies met die krag van sy talent. Vasgeanker in
Geloof is die ratte stewig in harmonie. Ons nooi u om met u talente
nuwe ratte in hierdie masjien te word.
Hierdie "Blou Masjien" wat hoog bo die wolke uittroon is vir
vele oudleerlinge steeds die hartslag van hulle dink en doen, 'n Alma
Mater wat met trots die grondslag van hul wese kon help vorm.
Ons nooi u vandag om deel te word van hierdie skool en om u talente en
gawes met ons te deel.
PIETER BOOYSEN: HOOF